Voyager 1
Voyager 1 is 'n onbemande ruimtetuig wat op 5 September 1977 kort ná Voyager 2 vanaf Kaap Canaveral deur middel van 'n Titan III-vuurpyl gelanseer is. Ná die beëindiging van sy oorspronklike sending in die tagtigerjare het die tuig die uithoeke van die Sonnestelsel bestudeer. Op ’n afstand van 125 AE van die Son af (in Augustus 2013)[1] is dit die verste mensgemaakte voorwerp van die Aarde af.
![](http://up.wiki.x.io/wikipedia/commons/thumb/d/d2/Voyager.jpg/300px-Voyager.jpg)
Op 12 September 2013 het Nasa aangekondig dat Voyager 1 die instellêre ruimte op 25 Augustus 2012 betree het – dit is die eerste mensgemaakte voorwerp wat die Sonnestelsel verlaat.[2][3][4][5][6][7] Die ruimtetuig van 722 kg kan steeds sekere instruksies van die Aarde af ontvang en kan ook inligting terugstuur.
Die sending
wysigVoyager 1 het eers Jupiter bereik en het in Januarie 1979 en April 1979 gedetailleerde foto's van die planeet geneem. Die naaste wat die ruimtetuig aan die planeet gekom het was op 5 Maart 1979, toe dit sowat 349 000 km van die planeet se kern was. Hierdie nabyheid het beteken dat daar vir 'n tydperk van 48 uur 'n aantal hoëresolusiefoto's van die planeet se mane, sy ringstelsel en magneetvelde geneem kon word.
Saam met Voyager 2 het die tuig 'n aantal belangrike ontdekkings oor Jupiter, sy mane en sy (destyds onbekende) ringstelsel gemaak. Een van die grootste verrassings was die teenwoordigheid van vulkaniese aktiwiteit op die maan Io, wat in die tyd nog nie deur Pioneer 10 of 11 waargeneem is nie.
Ná sy besoek aan Jupiter het Voyager 1, weer saam met Voyager 2, na Saturnus gereis. Voyager 1 het die planeet in November 1980 bereik, waar hy die planeet, sy ringe en een van sy mane, Titaan, bestudeer het. Die naaste wat hy aan Saturnus gekom het was op 12 November 1980, toe hy 124 000 km bo Saturnus se wolke verbygevlieg het. Die ruimtesonde se kameras het die komplekse strukture van Saturnus se ringe bespeur en ook die atmosfere van Saturnus en Titaan bestudeer. Die ruimtetuig Pioneer 11 het reeds 'n jaar vroeër Titaan se dik, gasagtige atmosfeer waargeneem en Voyager 1 is dus doelbewus na hierdie natuurlike satelliet gestuur om die atmosfeer te bestudeer.
Die wentelbaan wat Voyager 1 moes volg om Titaan te bereik, het beteken dat hy uit die sonnebaan sou beweeg en dus nie verder na die ander planete kon reis nie. In plaas hiervan het hy die ruimte ingereis, in die rigting van die Sonnestelsel se grens, teen 'n spoed van 520 miljoen kilometer per jaar. Sedert 1989 vorm Voyager 1 en 2 deel van die Voyager Insterstellêre Missie (VIM), wat bedoel is om die grense van die Sonnestelsel te benader en bestudeer.
Daar is tans 7 funksionele instrumente aan boord, maar daar word verwag dat die ruimtesonde ná 2025 nie genoeg energie sal hê om enige van sy instrumente te laat werk nie. Voyager 1 het op 17 Februarie 1998 die verste mensgemaakte voorwerp in die ruimte geword, ná dit verby Pioneer 10 gevlieg het.
Voyager 1 en 2 dra elk 'n kopie van die Voyager Golden Record: 'n goue oudiovisuele skyf met foto's, boodskappe en geluide om die diversiteit van lewe en kultuur op Aarde uit te beeld. Dit bevat ook simbole as 'n handleiding om dit te kan speel. Die inhoud van die skyf is saamgestel deur 'n kommissie onder leiding van Carl Sagan en is bedoel vir enige moontlike intelligente buiteaardse wesens of selfs mense wat in die verre toekoms moontlik ook so ver kan reis.
Galery
wysigAansig 1 is van die ekliptiese noordpool, volgens skaal; aansig 2 tot 4 is uit ander hoeke op ’n skaal van 20%.
Hou jou muis op die SVG-lêer oor ’n vlug- of wentelbaan om die baan en sy verwante lanserings en verbyvlugte uit te lig.
|
Verwysings
wysig- ↑ Voyager 1, Where are the Voyagers – NASA Voyager 1
- ↑ Cook, Jia-Rui C.; Agle, D. C.; Brown, Dwayne (12 September 2013). "NASA Spacecraft Embarks on Historic Journey Into Interstellar Space". NASA. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 Junie 2020. Besoek op 12 September 2013.
- ↑ Barnes, Brooks (12 September 2013). "In a Breathtaking First, NASA Craft Exits the Solar System". New York Times (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 Maart 2020. Besoek op 12 September 2013.
- ↑ Morin, Monte (12 September 2013). "NASA confirms Voyager 1 has left the solar system". Los Angeles Times.
- ↑ "Voyager 1 has entered a new region of space, sudden changes in cosmic rays indicate" (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 September 2013. Besoek op 20 Maart 2013.
- ↑ "Report: Humanity Leaves the Solar System — Or Maybe Not" (in Engels). Time News Magazine. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 15 Februarie 2020. Besoek op 20 Maart 2013.
- ↑ "Report: NASA Voyager Status Update on Voyager 1 Location" (in Engels). NASA. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 November 2019. Besoek op 20 Maart 2013.
Bronnelys
wysig- Voyager: The Interstellar Mission, by die amptelike Voyager-webwerf.
- Voyager 1, deur Nick Greene. By About.com.
Eksterne skakels
wysig- Voyager 1 op NASA se webwerf
- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Voyager 1.