Wikipedia:Voorbladartikel week 6 2025
Die nasionale vlag van Georgië (Georgies: საქართველოს სახელმწიფო დროშა, sakartwelos sachelmtsʼipo drosja), ook bekend as die Vyfkruisevlag (ხუთჯვრიანი დროშა, choetjwriani drosja), is op 14 Januarie 2004 amptelik in gebruik geneem. Die vlag vertoon ’n rooi Sint Joriskruis op ’n wit agtergrond met ’n rooi Bolnoer-Katskhoeri-kruis in elk van die kwadrante. Dit was oorspronklik die vlag van die Middeleeuse Koninkryk Georgië en is aan die einde van die 20ste en die begin van die 21ste eeu tydens die Georgiese nasionale herlewing in hergebruik geneem.
Die vlag van die Middeleeuse Koninkryk Georgië is ’n Jerusalemkruis (’n groot kruis met kleiner kruise in elke kwadrant) wat uit die tydperk ná die heerskappy van koning George V dateer. Dit toon ook ooreenkomste met die vlag van die Bisantynse Ryk en die vlag van Engeland.
Ná onafhanklikwording van die Russiese Ryk in 1918 het die Demokratiese Republiek van Georgië sy eie vlag in gebruik geneem wat ’n wynrooi baan met ’n swart en wit baan in die skildhoek getoon het. In 1921 is dié vlag ná die besetting van Georgië deur die Sowjetunie afgeskaf en die Georgiese Sosialistiese Sowjetrepubliek het in die 20ste eeu verskeie Sowjetvlae gebruik. Nadat Georgië in 1990 sy onafhanklikheid herwin het, is tot in 2004 ’n verlengde weergawe van die vlag van die Demokratiese Republiek van Georgië in gebruik geneem. Ná die vreedsame Roosrewolusie is in 2004 die huidige Vyfkruisevlag aanvaar.